Henriette Loubser

Hoofredakteur, Netwerk24

Pandemie of te nie, die kunste moet gevier word! Kunstenaars is hoeka van die mees kreatiewe siele in ons samelewing en as daar een ding is wat die huidige omstandighede ons geleer het, is dit dat jy uit die boks moet kan dink. Ons is almal op die een of ander manier uit ons gemaksone geskud.

Die kunste funksioneer binne ’n tydsgees en daarom gaan dit veral vanjaar interessant wees om te sien waarmee die skeppers vorendag kom. Deur teater, musiek, boeke, skilderye en al die ander kunsvorme, maak ’n samelewing immers sin van ons “reis” – waar bevind ons onsself en wie en wat is ons nou eintlik? Watter emosies en vrae woel rond? Waaroor lag ons of braak ons gal? Waar is die tekortkominge en watter blinde kolle en vooroordele moet dalk bevraagteken word?

Aan die een kant is die kunste ’n spieël wat ons soms met ongemaklike gewaarwordinge konfronteer. Aan die ander kant is dit ’n unieke manier om met onsself en mekaar in gesprek te tree – op maniere wat nie altyd met gewone kommunikasie moontlik is nie.

By Netwerk24 sien ons veral uit na Snelstroom se aanlyn aanbiedinge waarby ons betrokke gaan wees. Die suksesse van 2020, wat selfs tot benoemings vir kykNET se Fiëstas en die Naledi-pryse gelei het, het gewys dat hier ’n nuwe model van feesvier is, nes ons ook elke dag aan ’n nuwe model vir die media bou.

Die Vrystaat en Noord-Kaap is belangrike lesersgebiede vir Netwerk24. Ons het ’n sterk redaksiespan in die streek wat ook Volksblad van kopie bedien en sorg dat die digitale koerant net so boeiend en aan die voorpunt van nuus is as wat dit altyd op papier was. Deur ons ondersteuning van die Vrystaat Kunstefees wil ons dus ook ons waardering aan die streek en sy mense betuig. Ons sien daarna uit om saam fees te vier!

Ishmet Davidson

Uitvoerende hoof: Media24

Media24 is ‘n trotse ondersteuner van die kunste, wat veral in hierdie ongewone tye waarin ons leef ‘n baken van hoop en inspirasie is. Die jaarlikse Vrystaat Kunstefees en die tog na die Rosestad was vir meer as twintig jaar ‘n hoogtepunt en instelling vir menige feesganger. Toe die verhoë en feestente weens die Covid-19-pandemie leeg moes staan, het die organiseerders vinnig planne gemaak om ondanks al die uitdagings steeds die kunstevure hoog te laat brand met virtuele aanbiedings.

Dankie aan die organiseerders en kunstenaars, wat veral hard geruk is deur die pandemie, dat julle steeds so hard werk om die kunste te laat voortleef. Dankie dat julle vir ons inspirasie, hoop en ontvlugting bied en dit vir ons steeds moontlik maak om die vertonings in die gerief van ons huise by te woon.

Die fees bied oudergewoonte iets vir almal – van drama, komedie en musiekteater tot visuele- en woordkuns en dansteater. Maak seker jy koop jou virtuele kaartjies en geniet ‘n fees soos min.

Dr. Geraldine Reymenants

Algemene Verteenwoordiger van die Regering van Vlaanders

Die Diplomatieke Verteenwoordiging van Vlaandere het die eer om die Vrystaat Kunstefees 2021, wat hulle een-en-twintigste verjaarsdag hierdie jaar vier, te ondersteun. Een-en-twintig is tradisioneel ‘n beduidende mylpaal wat mondigwording, onafhanklikheid en die begin van die volwasse lewenspad simboliseer. Op onverwagte wyse was dit die geval vir die Vrystaat Kunstefees oor die laaste jaar. Alhoewel die fees nog altyd ‘n onafhanklike gees en etos geniet het, moes dit vining “grootword” weens die globale Covid-19 pandemie. Inperkings en sosiale afstand het ‘n groot uitdaging vir die samelewing en die ekonomie daargestel en die kulturele sektor was een van die wat die meeste daardeur geraak is. Nieteenstaande het die Vrystaat Kunstefees onmiddellik en sonder vrees ‘n nuwe pad aangedurf. Die Kunstefees het metodes gevind om digitale kanale en ander innoverende platforms te gebruik om die momentum en die gees van die Kunstefees te handhaaf terwyl hulle terselfdertyd Suid-Afrika se kunstenaars ondersteun het.

Vlaandere bly steeds verbind aan ons genootskap met die Vrystaat Kunstefees, in die hede en in die toekoms. Ons was bly dat die Vlaamse Week in April kon plaasvind as deel van die Vrystaat Literatuurfees, danksy die digitale platforms. Hierdie week van inspirerende literêre gesprekke tussen Suid-Afrikaanse en Vlaamse outeurs is ondersteun deur Literatuur Vlaanderen as ’n geleentheid om hul noue verbinding met die Vrystaat Literatuurfees te kon voortsit. Literêre uitruiling en mede-skepping sal die basis wees van ‘n nuwe projek, Schrijvers-werf, wat outeurs van Nederland, Vlaandere, Surinaam en ander Nederlandssprekende lande bymekaar sal bring, sowel as kollegas van Suid-Afrika en Namibië. Ons sien ook uit na die langverwagte première van Island of Future Dreams, ‘n ko-produksie tussen Vlaandere, Nederland en Suid-Afrika, so gou as moontlik.

Hierdie jaar se feestema, “Young at Art”, pas goed by ons eie leuse, “Flanders, State of the Art”. Beide openbaar ‘n begeerte vir avontuur, eksplorasie, viering en vir betekenisvolle uitlewing. Betekenisvolle uitlewing vir kunstenaars is om op te tree, uit te voer, voor te dra, te dans en te sing voor lewende gehore. Betekenisvolle uitlewing vir gehore is eweneens om artistiese ontlokking persoonlik te ervaar. Ons is daarom uiters bly dat die Vrystaat Kunstefees in fisiese vorm plaasvind. Ons neem hierdie geleentheid aan om almal wat betrokke is ‘n baie gelukkige een-en-twintigste verjaarsdag toe te wens en ons sien uit daarna om dit saam met julle te vier.

Cornelia Faasen

Hoof-uitvoerende Beampte: Nasionale Teater-inisiatief

Die Vrystaat Kunstefees doen vanjaar weer wat hulle die heel beste doen: ‘n mengelmoes van planne, idees, platforms, style, dissiplines en genres. En NATi is opgewonde en trots om weer deel te wees van die vieringe.

Die Vrystaat Kunstefees het egter ook die laaste paar jaar ‘n wonderlike ander reputasie opgebou as ‘n tuiste vir jong kunstenaars en eksperimentele kunstenaars om hul tande te slyp. Die fees doen geweldig baie moeite om wyd en ver te gaan soek na jong talent en om ook kruisbestuiwend te werk met die verskeie platforms wat die Covid-19 pandemie ons forseer om te omarm. En hulle doen dit met entoesiasme en grasie.

Dit is skaars nodig om te beklemtoon watter uitdagings die laaste 18 maande vir die teater- en feesomgewing gebied het, maar die fees loop dit tromp-op met projekte en produksies wat steeds hoop en, die belangrikste, werk skep vir kunstenaars. Ons salueer die Vrystaat Kunstefees vir hul waagmoed en die fokus wat vanjaar op Vrystaatse kunstenaars val, beloof om ‘n hutspot van uitdagende, skeppende en grensverskuiwende werk te lewer.

Corneli van den Berg

Direkteur van die Vrystaat Kunstefees

Hartlik geluk aan die Vrystaat Kunstefees wat vanjaar 21 jaar oud is!

Ons vier vanjaar hierdie uitsonderlike mylpaal met die tema “Jonk van Fees”. Die fees het oor die afgelope 21 jaar op diverse en uiteenlopende wyses gegroei en ontwikkel en verskeie gedaanteverwisselinge ondergaan. Alhoewel die Covid-19 pandemie dit die afgelope twee jaar nie moontlik gemaak het om die fees aan te bied nie, is hierdie winterfees met sy fantastiese kunsvlytmark, uitstekende teater-musiek-en-dansproduksies en visuele kunsuitstallings, se kern in vele opsigte steeds wat dit was. Die hart, atmosfeer en karakter van hierdie Vrystaat-gesetelde fees duur steeds voort.

Weens die voortslepende pandemie is dit steeds nie wesenlik om ’n fisieke kunstefees aan te bied nie. Ons moes blitsvinnig weens die pandemie aanpas en ons ontwikkel verskeie suksesvolle aanlyn inisiatiewe.

’n Sleutel-inisiatief wat vanjaar voortgaan, en een waaroor ons baie opgewonde is, is ons Snelstroom program. Snelstroom, wat verder verdeel word in die Hoofstroom en Vrystroom-programme, betrek ons aanlyn artistieke program en sluit allerhande digitale aanbiedings in.

Die kunstefees het vroeër vanjaar in samewerking met die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) ’n opwindende kapasiteitsontwikkeling-inisiatief, die Kreatiewe Praktyke Laboratorium, aangebied. Die Laboratorium het Vrystaatse kunstenaars en kreatiewe praktisyns die geleentheid gebied om eksperimentele en interdissiplinêre kuns-in-uitvoeringspraktyke te ontwikkel.

Sedert Maart vanjaar is die Vrystaat Literatuurfees reeds volstoom besig om boeiende boek- en digkunsgesprekke aan te bied, insluitend ‘n Vlaamse week in samewerking met Literatuur Vlaanderen en die Algemene Afgevaardigde van die Vlaamse regering in Suidelike-Afrika. Besoek gerus die nuutgeskepte literatuurfeesgroep op Facebook om op datum te bly met alle boeke-aangeleenthede.

’n Volgende feesinisiatief, PACE, die Pan-Afrika Kreatiewe Uitruil, bied óók vanjaar ‘n aanlyn laboratorium aan: die PACE+ Dramaturgiese Laboratorium, ondersteun deur die Nederlandse Ambassade in Suid-Afrika. ’n Ander opwindende aanlyn slypskool wat die kunstefees reeds vanjaar van stapel gestuur het, is Telematic 360 – ’n projek wat ontwikkel is vir die fees se Pan-Afrika Telematiese Kunsprojek, of PATAP, en ruimhartig ondersteun word deur die Nasionale Kunsteraad.

Later vanjaar bied ons die tweede aflewering van die mini klassieke musiekfees, Vrystaat Klank en Klassiek, aan. Bloemfonteinse plaaslike, asook nasionale klassieke musici sal aan hierdie program deelneem. Hou gerus die media, ons webtuiste en sosiale media dop vir meer inligting.

In noue samewerking met die kunstefees se gebruiklike kunstemark, het die fees ook deesdae ‘n aanlynwinkel, die Wolkewinkel, waar allerlei handgemaakte produkte reg deur die jaar te koop aangebied word. Ondersteun gerus ons Wolkewinkel en vind al die heerlike produkte wat jaarliks op die kunsmark te koop is, alles op een plek en maklik bekombaar, vanaf die gerief van jou woonkamer.

Baie dankie aan al die Vrystaat Kunstefees se borge en donateurs wat dit die afgelope 21 jaar moontlik gemaak het om hierdie besonderse en vernuwende fees in die hartjie van die Vrystaat aan te bied. Aan Media24 (ons stigtersborg), Netwerk24 en die Universiteit van die Vrystaat as feesvennote, en aan al die kunstefees se programvennote en tallose samewerkende projekvennote, baie, baie dankie.

En aan elke feesganger wat ons die afgelope 21 jaar ondersteun het – ek klink ’n glasie op julle en op die volgende 21 jaar!

Prof. Francis W. Petersen

Rektor en Visekanselier, Universiteit van die Vrystaat

As een van die topfeeste in ons land, het die Vrystaat Kunstefees sy veerkragtigheid en toewyding aan die kunste gedurende die ontwrigtende Covid-19 pandemie bewys.Daardeur het dit kunstenaars die vertroue gegee om aan te hou skep, al is dit in ‘n alternatiewe formaat. In die geskiedenis van die mens was kuns nog altyd die stem van die gemeenskap – ’n refleksie van ons verskillende realiteite. Alhoewel ons voor dieselfde globale pandemie te staan gekom het, het ons, oor verskillende nasies en kulture heen, almal uiteenlopende ervarings gehad. Met die viering van sy 21ste jaar, bied die Vrystaat Kunstefees weereens ’n platform vir kreatiwiteit en menings.

Die Universiteit van die Vrystaat (UV) is uiters trots daarop om deel van die fees te bly, siende dat ons die afgelope jaar verskeie prestasies op die gebied van die kunste kon vier. Ons het gesien hoe dosente toekennings ontvang vir visuele en geskrewe werke en een het selfs die populêre musiekwêreld verower. Soos altyd sal ons aanhou om die kreatiewe uiting via verskillende mediums te ondersteun en aan te moedig.

Vanjaar lê die fees weer die waagmoed aan die dag deur lewende opvoerings en geleenthede aan te bied binne die beperkinge van die Covid-19 protokol, maar met die toevoeging van ’n aanlyn program. Die organiseerders se vindingrykheid verdien my lof en ek glo dat feesgangers genot sal put uit watter platform hulle ookal kies om by te woon. Net soos verlede jaar kombineer die virtuele programme nie net artistieke vernuf met tegnologie nie, maar maak dit ook voorsiening vir bywoning wat andersins nie moontlik sou gewees het nie.

Sedert sy ontstaan het die fees unieke en relevante programinhoud gebied en vanjaar is geen uitsondering nie. Feesgangers sal ’n diverse kulturele kunsvorme kan geniet wat hul lewens sal verryk en hulle ryklik sal vermaak.

Soos altyd bied die UV weer ons Thought-Leader-reeks aan as deel van die Vrystaat Literatuurfees se aanlyn inisiatief, VrySpraak-digitaal. Dit is daarop gerig om die universiteit as ’n thought-leader of ’n meningsvormer te posisioneer, as ’n institusie wat deelneem aan die openbare diskoers oor sake van nasionale belang. Die reeks word dwarsdeur die jaar in die vorm van webinare aangebied. Vanjaar sal die vierde jaar wees wat die reeks aangebied word en temas sluit onder meer in hoe om universiteite vir studente-sukses te herbedink, Korrupsie in Suid-Afrika: Die Endemiese Pandemie, en Suid-Afrikaanse politiek en die verkiesing op plaaslike regeringsvlak.

Soos voorheen hang die beplanning en aanbieding van die fees in sy aangepaste formaat grootliks af van ’n groot klomp mense wat voor en na die fees agter die skerms werk. Ek wil hulle bedank vir hul verbintenis tot en toewyding aan die skep van ’n platform vir kreatiwiteit.

Dankie aan al die feesgangers wat daartoe verbind bly om die kunste tydens gewone en ongewone tye te ondersteun. Ek en die kunstenaars stel jul waardering en teenwoordigheid hoog op prys.

Vriendelike Kovsie-groete

Edward Charles Human

Eerste Nasies Ambassadeur

!Gaitsesa ti khoen, mî re? Ti Ions ge Edward Charles. Ti khaikhoe Ions ge Human. Ti ge Xirika. Tita ge ≠Gῡrokam Khoen. Goeiedag, my mense, hoe gaan dit? My naam is Edward Charles. My van is Human. Ek is ‘n Griekwa. Ek is Eerste Nasies.

Ek wil graag erkenning gee aan my Eerste Nasies / Khoi-San voorvaders en die groot leiers voor my. Leiers soos Autshumatso, David Stuurman, David Kruiper en Sarah Baartman, om maar ’n paar te noem. Namens Kaptein Johannes Kraalshoek en die Vrystaat Griekwa Tradisionele Raad, verwelkom ek julle in die Griekwa en Koranna gebied in die hartland van Suid-Afrika, die Vrystaat, in Bloemfontein.

Ek gee ook erkenning aan Danab ||Hui Gaeb di !Huni !nâ !Gῡkhoeb (Bradley van Sitters) en !Aru |khuisi Piet Berendse vir hul ongelooflike werk tydens die Welkom in die Land Seremonie. En laastens wil ek my dank betuig aan die vise-kanselier, prof. Francis Petersen, die afgevaardiges van die Universiteit van die Vrystaat, en die afgevaardiges van die Volksblad nuusblad en ander instansies en regeringsektore.

As Eerste Nasies Ambassadeur, wens ek graag die Vrystaat Kunstefees geluk met hul 21ste jaar as ’n kunstefees in Bloemfontein en in Suid-Afrika as ’n geheel.

≠Khî(sa) !Naetsē.b Vrystaat Kunstefees / Veels geluk Vrystaat Kunstefees.

Ek kan getuig oor hoe die Program vir Innovering en Kunsvormontwikkeling (PIAD) oor die jare heen binne die fees se Eerste Nasies Program gegroei het. Ons was gelukkig om Eerste Nasies kunstenaars vanaf Australië, Maori, Tasmanië en Nieu-Seeland, kunste-bestuurders, regisseurs en skrywers van Amerika, sowel as plaaslike Eerste Nasies kunstenaars, te ontvang .

Tydens die 2019-Kunstefees het dansers van die Pakana Kanaplila Troupe en Adὶe Bὰ Lόkùn van Nigerië, en die “Rieldanser” van die Khoi-San in die Noord-Kaap ons met hul teenwoordigheid vereer.

Die vierde Eerste Nasies Kollokwium wat in Richmond van 3 tot 9 November 2019 plaasgevind het, het artistieke geeste van Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika byeengebring. Dit is gefasiliteer deur my en Lee-Ann Tjunypa Bucksin, ‘n Narungga, Wirangu, Wotjobaluk vrou wat welbekend is in Australië se inheemse en internasionale kunsgemeenskappe. Die Kollokwium het gefokus op:

  • Die refleksie op kreatiewe werke en betrokkenheid by Eerste Nasies se kunstenaarspraktyke, plaaslik en internasionaal.
  • Die bepleiting dat Eerste Nasies se uitdrukking in inheemse tale, kuns en kulturele praktyke plaasvind.
  • Sosiale dinamika en uitdagings vir Eerste Nasies-gemeenskappe en hoe hulle hulself uitdruk in kreatiewe werk.

Ongelukkig het alles in 2020 tot stilstand gekom weens die Covid-19 pandemie. Maar 2020 het egter ook gesorg vir ʼn nuwe visie vir die Eerste Nasies (Khoi-San) in Suid-Afrika: Proklamasie No. 38 van 2020 deur die Staatspresident van Suid-Afrika, die inwerkingtreding van die Wet op Tradisionele en Khoi-San-Leierskap, 2019 (Wet No. 3 van 2019), wat konstitusionele erkenning aan die Khoi-San in Suid-Afrika gee. Hierdie prestasie is die gevolg van 29 jaar se harde werk deur die ouer garde en dit sal hopelik die deur oopmaak vir onder meer grondrestitusie en die ontwikkeling van die Khoi-San taal en die bevordering daarvan in die onderwyssisteem. Ná suksesvolle onderhandelings rakende Rooibos Tee, kan ons, die Khoi-San, saam met die hoofrolspelers in die industrie ook deel in die voordele daarvan.

Ons as die Eerste Nasies dra ons gelukwense oor aan Corneli van den Berg as die nuut-aangestelde Direkteur van die Vrystaat Kunstefees. Ons bedank ook graag dr. Ricardo Peach wat aan ons die geleentheid bied om as Eerste Nasies ook as kunstenaars in eenheid te kan groei. As Eerste Nasies is ons bevoorreg om weereens deel te wees van die Vrystaat Kunstefees en ons weet dat dit net van krag tot krag sal gaan.

Veels geluk Vrystaat Kunstefees. / ≠Khî(sa) !Naetsē.b Vrystaat Kunstefees.

Tawades

De Villiers Brink

Voorsitter: Vrystaat Kunstefees/Arts Festival/Tsa-Botjhaba

U word hartlik uitgenooi om uself vas te gordel vir die Oktober Snelstroom se stroom versnellings wat u deurlopend gaan verras en opgewonde hou. Die Vrystaat Kunstefees se produksiespanne het hulself oortref en u gaan die vrugte daarvan pluk! Geniet elke oomblik.