Antropologiestudent, Sebabatso, kry ’n kultuurskok wanneer sy ’n werkstuk oor die LGBTQIA+ gemeenskap moet doen. Terwyl sy daaraan werk, maak sy vriende in dié gemeenskap op kampus en raak sy betrokke by kampuspolitiek. Wanneer sy aan ’n protesaksie teen die optrede van die studentedekaan deelneem, ontdek sy dat daar individue is wat aan beide die LGBTQIA+ en die gestremde gemeenskappe behoort.
Kategorie: Uitvoerende kunste
Porselynnkas Dokiementêr
Lank voor Jack Parrow en Fokofpolisiekar, was Porselynnkas ‘n meer poëtiese of teatrale weergawe van die Voëlvry beweging. Porselynnkas is verban deur plaaslike radiostasies en die kerk het hulle gehaat. Ten spyte van al die teenstand, het die groep steeds 34 poetry happenings gedoen, 21 digbundels die lig laat sien, musiek opgevoer, ‘n radio-drama uitgesaai en anargie in die teater tussen 1996 en 1999 gesaai. Die teaterwêreld het middel 1990’s ‘n swartskaap nodig gehad en dit in Porselynnkas gevind, een van die eerste performance poetry groepe in die land.
The Intervention
Charlotte het onlangs na Hong Kong verhuis om ʼn nuwe begin te maak. Ná sy ʼn jaar lank by ʼn skool gewerk het, en met die druk van Covid-19, begin haar leefstyl as partytjiedier sy tol eis. Haar kollegas van die werk beplan, met die hulp van guru Josh Zhen, ʼn ingryping in haar lewe – via ʼn zoom oproep.
Viva Dada!
“Dis tog eenvoudig? Ons gaan ‘n boek soek wat verdwyn het.” Wat begin het as ‘n eenvoudige uitdaging ontketen ‘n worsteling met depressie, selfmoord en ook met daai monster “kreatiwiteit”. Tien jaar na die bekendstelling van die Porselynnkas dokumentêr, besluit skrywer Sjaka Septembir en filmmaker Matthew Kalil om dit te vier met die maak van ‘n nuwe dokumentêr. Dié keer is die doel om die punkroman wat Sjaka in die 90’s geskryf het en waarvan net driehonderd kopieë gedruk is, op te spoor. Die soektog neem beide van hulle terug na dele van hul eie geskiedenis wat hulle moontlik liewers sou wou vergeet het.
Sehlabelo
ʼn Koningin wat desperaat is om haar huwelik te red, word in die proses deur die duiwel verlei om met hom te dans. Terwyl sy in niemandsland vasgevang is, wend sy wanhopig pogings aan om vrede te vind vir haar en haar dogter, wat die prys betaal. Hierdie vertoning is ʼn beeldskone, visueel-stimulerende werk deur sewe van die beste Vrystaatse kunstenaars, elkeen met ʼn unieke talent.
Hoe klink ONS
’n Poëtiese, beeldryke en simfoniese gesprek tussen vier kunstenaars en twee stede: Kaapstad en Zwolle.
Oktober 2020 – tydens die Corona-krisis – werk die Nederlandse kunstenaarsduo, BotherTill en filmmaker Jonathan Sipkema, saam met die Suid-Afrikaanse woordkunstenaar Jitsvinger en filmmaker Lindsey Appolis aan ’n unieke projek. In hierdie filmprojek gaan soek hulle nuwe maniere om mekaar via digitale kanale te leer ken. Hulle het gewerk vanuit die vertrekpunt: Luister is kyk, en kyk is luister. “Hoe klink stromende water vir jou? Watter lied sing die voëls in die aand? Watter geluid sit onder jou vel?” In hierdie 72-uur-lange filmprojek leer vier kunstenaars mekaar ken deur die klanke van hul huise te verwoord en die poësie van die stad uit te beeld.
Die filmprojek val binne die internasionale samewerkingsprojek ONS Perspektief.
EX HUMAN
Geskep deur Louise Westerhout en Roxanne de Freitas
@louisewesterhout @roxannedefreitas_
In ʼn post-humanistiese landskap poog twee femmes, wat die Patriargale Apokalips oorleef het, om die kuur te vind vir geslagsgebaseerde geweld. Hul eksperimentele navorsingsmetodologie neem ons tot by die rant van bekende wetenskaplike paradigmas. Sal hul werk ʼn toekoms kan verseker waarin ons immuun teen geweld is? Of sal hulle gesaboteer word deur die hoogs-aansteeklike bedreiging, PTSV?
Waarskuwing: beskrywings van seksuele aanranding. Geen traumaporno nie …
Hi.
Ons is twee vroue wat seksuele aanranding oorleef het. Ons groet jou hartlik vanuit die interwebs. Dit is ons verhaal van oorlewing. Dit is ook ‘n verhaal vir die wat oorleef. Ons nooi jou uit om soveel tyd en spasie in te neem as wat jy hier nodig het.
As jy ook geïnspireer en gereed is om u anonieme verhaal te deel, het ons ‘n Instagram -bladsy spesiaal vir jou opgestel: @sexualassaultartssa
Cleanse
ʼn Visueel-aangrypende ontdekkingstog oor die verhouding tussen ‘n vrou en die element water. Haar liefde-haat verhouding met die element word verken soos haar reis ontvou. Met bekroonde regisseur Patrick T. Peni (tans die redigeerder by Ferguson Films) aan die stuur, maak hierdie projek gebruik van die gesproke woord, visuele elemente, klank en beeldspraak. Dit sal die gehoorlede sprakeloos laat.
Blomme vir Jupiter
Valie, die nors nar, is moeg daarvoor om alleen deur die lewe te gaan. Eensaamheid is nou al byna sy tweede naam. Op ’n dag besluit hy om ’n bus te neem na Die Einde van die Aarde, maar die Noodlot het ‘n ander plan om hom van sy eensaamheid te genees. Hy ontmoet vir Mollie, die joviale nar, en saam ontdek hulle die onmoontlike — Jupiter het op die aarde neergeval!
Barulho D’água (Noise in the Water)
Barulho D’água (Noise in the Water) vertel die tragiese verhaal van duisende vlugtelinge wat meetsal in die Mediterreense See omgekom het nie: Die oorlewendes is net ‘n handjievol, soos die skaam Tunisiese immigrant wat nie oogkontak kan maak wanneer sy die drama rondom haar en ander se oorlewingstryd in die stormagtige see weergee nie. Die skrywer bly getrou aan dit wat hy gehoor en gesien het in die dorpie Mazara del Vallo aan die voet van San Vito Onlus, ’n Italiaanse kusdorpie wat reik na die Afrika-kus.
BETEWU
BETEWU is reflektiewe teaterwerk wat volg op deeglike navorsing oor die gevolge van Covid-19. Dit ondersoek kunssinnige mans se geestesgesondheid: Wat doen mans wat skryf, regisseer en toneelspeel wanneer hulle nie op die verhoog is nie? “Monna ke Nku ha lle” is oeroue wysheid. Dit moedig mans aan om te huil, maar in die gemeenskap se oë is dit nie manlik nie, “ha re tlo lla le basadi”. Wanneer mans nie meer in die middel van die kraal uiting kan gee aan hul frustrasie nie, raak hulle verward en kry die oeroue gesegde weer betekenis: “Qcina ndoda … monna ha lle o nka qeto. Ho lla ha ho thuse.”
Aku vang ‘n ster
ʼn Spanningsdrama wat afspeel in die onherbergsame Noord-Kaap waarin huweliksontrou, moord en selfsug voorop staan. Aku is ʼn sonderlinge karakter en ʼn mengsel van San-Griekwa-Blank. Die maan is sy ma, die sterre sy ligte en hy ry op ʼn riethings. Hy tel ʼn sterdiamant op en gierigheid dryf die dramatiese gebeure. Paul Boekkooi sê in Beeld dit is “Aku se aardse maar poëtiese taalgebruik wat aan die karakter en die stuk sy bekoring gee. Aku plaat die edele koningstaal van die primitiewe jagter as kind van die veld teenoor die statiese kleinburgerlikheid.”
Eclectic Spoken Wordsmiths
Hierdie dokumentêr stel drie jong, talentvolle en diverse digters bekend wie se werk die afgelope paar jaar in Bloemfontein ervaar kon word. Dis ’n poging om lig te werp op hul reis in die kreatiewe sfeer deur hul merkwaardige werke aan te bied, om opkomende digters te inspireer en om die gehoor ’n skrams blik te gee op hul volgehoue volharding. Wees gereed om vasgenael te ontdek hoe hul reis soos ‘n goue draad in ons dinamiese kreatiewe gemeenskap verweef is.