Corneli van den Berg

Vrystaat Kunstefees Feesdirekteur

Dit is báie opwindend dat die Vrystaat Kunstefees vanjaar vir die tweede jaar ‘n mini klassieke musiekfees, Vrystaat Klank en Klassik (VKK), kan aanbied, spesifiek geskoei op klassieke musiekliefhebbers. Wat dit selfs meer opwindend maak is dat hierdie musiekfees in persoon aangebied word!

Hierdie nuwe inisiatief, deur die Vrystaat Kunstefees van stapel gestuur, beoog om klassieke musiek en klankkuns in die provinsie te bevorder en bied aan klassieke musiekliefhebbers ’n geleentheid om hulself te verdiep in ’n klassieke musiekprogram van die hoogste gehalte.

Baie dankie aan die Rupert Musiekstigting vir jul ruimhartige ondersteuning van hierdie inisiatief! Aan die samestellers van die program, Elretha Britz en Hilletje Moller-Bashew, welgedaan! Die program beloof om prikkelend, verkwikkend, en bowenal inspirerend te wees.

Die program bestaan uit ’n hoofprogram asook gratis konserte wat deur topstudente van die Odeion Musiekskool aangebied word. Die hoofprogram, aangebied in die Odeionteater op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat, skop af met Cuentos de Hadas, liedere deur Spaanse komponiste, met Linelle Wimbles (sopraan), Aukse Trinkunas (mezzosopraan) en Paul Ferreira en Eugène Joubert (klavier).

Teresa de Wit (mezzosopraan) en Lesley-Ann Mathews (klavier) bied Brahms, Dvorak, Benjamin Britten en Satie in ’n uitvoering genaamd Most beautiful songs. Daarteenoor is Madame Pylinska en die geheim van Chopin ’n toneelstuk met musiek. Naòmi Morgan vertaal Éric-Emmanuel Schmitt se outobiografiese verhaal in Afrikaans. Chris van Niekerk is die verteller en Eugène Joubert die pianis wat onder meer werke van Chopin uitvoer.

Nina Schumann gee ‘n solo-klavieruitvoering met werke van Bach, Mendelssohn, Medtner en Rachmaninoff en die Charl du Plessis Trio speel in It Takes Three oorspronklike tango’s en verwerkings deur Du Plessis self. Die program sluit af in die Geloofsentrum, Universitas met ’n uitvoering van Vivaldi se Gloria met Anmari van der Westhuizen as dirigent.

Ons sien uit daarna om alle klassieke musiek geesdriftiges by Vrystaat Klank en Klassik te verwelkom!