Corneli van den Berg

Direkteur van die Vrystaat Kunstefees

Hartlik geluk aan die Vrystaat Kunstefees wat vanjaar 21 jaar oud is!

Ons vier vanjaar hierdie uitsonderlike mylpaal met die tema “Jonk van Fees”. Die fees het oor die afgelope 21 jaar op diverse en uiteenlopende wyses gegroei en ontwikkel en verskeie gedaanteverwisselinge ondergaan. Alhoewel die Covid-19 pandemie dit die afgelope twee jaar nie moontlik gemaak het om die fees aan te bied nie, is hierdie winterfees met sy fantastiese kunsvlytmark, uitstekende teater-musiek-en-dansproduksies en visuele kunsuitstallings, se kern in vele opsigte steeds wat dit was. Die hart, atmosfeer en karakter van hierdie Vrystaat-gesetelde fees duur steeds voort.

Weens die voortslepende pandemie is dit steeds nie wesenlik om ’n fisieke kunstefees aan te bied nie. Ons moes blitsvinnig weens die pandemie aanpas en ons ontwikkel verskeie suksesvolle aanlyn inisiatiewe.

’n Sleutel-inisiatief wat vanjaar voortgaan, en een waaroor ons baie opgewonde is, is ons Snelstroom program. Snelstroom, wat verder verdeel word in die Hoofstroom en Vrystroom-programme, betrek ons aanlyn artistieke program en sluit allerhande digitale aanbiedings in.

Die kunstefees het vroeër vanjaar in samewerking met die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) ’n opwindende kapasiteitsontwikkeling-inisiatief, die Kreatiewe Praktyke Laboratorium, aangebied. Die Laboratorium het Vrystaatse kunstenaars en kreatiewe praktisyns die geleentheid gebied om eksperimentele en interdissiplinêre kuns-in-uitvoeringspraktyke te ontwikkel.

Sedert Maart vanjaar is die Vrystaat Literatuurfees reeds volstoom besig om boeiende boek- en digkunsgesprekke aan te bied, insluitend ‘n Vlaamse week in samewerking met Literatuur Vlaanderen en die Algemene Afgevaardigde van die Vlaamse regering in Suidelike-Afrika. Besoek gerus die nuutgeskepte literatuurfeesgroep op Facebook om op datum te bly met alle boeke-aangeleenthede.

’n Volgende feesinisiatief, PACE, die Pan-Afrika Kreatiewe Uitruil, bied óók vanjaar ‘n aanlyn laboratorium aan: die PACE+ Dramaturgiese Laboratorium, ondersteun deur die Nederlandse Ambassade in Suid-Afrika. ’n Ander opwindende aanlyn slypskool wat die kunstefees reeds vanjaar van stapel gestuur het, is Telematic 360 – ’n projek wat ontwikkel is vir die fees se Pan-Afrika Telematiese Kunsprojek, of PATAP, en ruimhartig ondersteun word deur die Nasionale Kunsteraad.

Later vanjaar bied ons die tweede aflewering van die mini klassieke musiekfees, Vrystaat Klank en Klassiek, aan. Bloemfonteinse plaaslike, asook nasionale klassieke musici sal aan hierdie program deelneem. Hou gerus die media, ons webtuiste en sosiale media dop vir meer inligting.

In noue samewerking met die kunstefees se gebruiklike kunstemark, het die fees ook deesdae ‘n aanlynwinkel, die Wolkewinkel, waar allerlei handgemaakte produkte reg deur die jaar te koop aangebied word. Ondersteun gerus ons Wolkewinkel en vind al die heerlike produkte wat jaarliks op die kunsmark te koop is, alles op een plek en maklik bekombaar, vanaf die gerief van jou woonkamer.

Baie dankie aan al die Vrystaat Kunstefees se borge en donateurs wat dit die afgelope 21 jaar moontlik gemaak het om hierdie besonderse en vernuwende fees in die hartjie van die Vrystaat aan te bied. Aan Media24 (ons stigtersborg), Netwerk24 en die Universiteit van die Vrystaat as feesvennote, en aan al die kunstefees se programvennote en tallose samewerkende projekvennote, baie, baie dankie.

En aan elke feesganger wat ons die afgelope 21 jaar ondersteun het – ek klink ’n glasie op julle en op die volgende 21 jaar!