Pauline Gutter & Jacques Fuller

Die Vrystaatse kunstenaars Pauline Gutter en Jacques Fuller span hul kragte en talente saam vir ’n visuele kunsuitstalling by die Monte Bello-landgoed op 15 en 16 Oktober 2021. Gutter en Fuller, wat saam meer as sestig jaar se ondervinding as visuele kunstenaars het, stal twee dae lank ’n versameling van hul onlangse werk by dié skilderagtige en moderne landgoed uit, waar kykers hulle kan regmaak vir ’n viering van tegniese uitnemendheid in skilderkuns, geelkoperbeeldhouwerk, houtskooltekenwerk en litografie. 

Pauline Gutter se werk fokus op kwessies van mag en grond, en die onstabiliteit en wisselvalligheid van die landbousektor. Kykers word weggevoer na ’n skynwerklikheid wat hulle uitdaag om die konflik tussen grond en masjinerie en tussen die mens en tegnologie te ondersoek, dikwels met die bul as metafoor vir ’n menslike geldeenheid, vir krag en vir die oordrag van die landskap se inherente energie. Hierdie uitstalling is Pauline se eerste in die Vrystaat sedert haar solo-uitstalling, Purgatorium, in 2016.

Jacques Fuller se werk handhaaf ’n fyn balans tussen satire en kommentaar oor kontemporêre politieke kwessies. Jacques gebruik die buitengewoon moeilike medium van getemperde geelkoperbeeldhouwerk om die kyker in te lok, en sy besondere beeldhouwerke blaas lewe in die kragtige kontras tussen erns en tong-in-die-kies humor. Met hierdie uitstalling demonstreer Jacques vier dekades se ondervinding in die smee van geelkoperbeeldhouwerk, en stel hy sy ongelooflike beheer van ’n onversetlike medium – metaal – ten toon.

Die samekoms van dié twee kunstenaars in een spasie is ’n sonderlinge eer in die Vrystaat – sluit by hulle aan vir twee dae van kreatiewe toordery in hierdie voortreflike ruimte.

Die geleentheid vind by die Monte Bello-landgoed plaas op 15 Oktober van 18:00 tot 22:00 en weer op 16 Oktober 2021 van 10:00 tot 22:00.

Om jou bywoning te bevestig, kontak asseblief Monte Bello se geleentheidskoördineerder, Jeanne-Mari van den Berg, by jeannemari@montebelloestate.co.za.