Vrystaat Kunstefees | Week van het Nederlands | Oor grense heen

Vir die duur van die Week van Nederlands (2 – 9 Oktober) maak die Vrystaat Kunstefees sekere produksies beskikbaar op ’n spesiale blad wat hulle skep. Dié produksies het almal ontstaan weens samewerking met die Lae Lande. Die produksies kan aanlyn gesien word. Van hierdie produksies sal slegs vir die week beskikbaar wees, en dan later in die jaar weer.

Sit jou masker op en breek die Covid-blues en kom vier saam met ons Nederland en Vlaandere se sewende weergawe van Het week van het Nederlands wat wêreldwyd die Nederlandse taal vier en plaasvind van 2 tot 9 Oktober 2021 – vir die eerste keer in Suid-Afrika. Hierdie jaar kyk Nederlands oor alle grense heen, met ’n volstruis as logo, ’n taal op stelte en word dit vir die eerste keer in Suid-Afrika gevier. Vanjaar is die 1e Editie buite Nederland en Vlaandere en word die Nederlandse taal vir die eerste keer op hierdie wyse in Suider-Afrika gevier. Via die webwerf van Week van het Nederlands (https://weekvanhetnederlands.org/) en Voertaal ( https://voertaal.nu/) sal dit ook op ’n wêreldwye platform ervaar kan word.

Suid-Afrikaners kan uitsien na ’n fisieke basis in Pinelands by Studio SASNEV, inryteaters, gesprekke oor taal- en landsgrense heen en, natuurlik, lekker ete en drinke.

Die naelstring steek grense oor na Kaaps, Fries en Afrikaans 

Vanuit Suid-Afrika, reg langs die viering van die Nederlandse taal, sal Kaaps, Fries en Afrikaans ook aan die woord kom, met gesprekke oor die rol van Fries in ’n Nederlandse omgewing en waar Kaaps in dit alles inpas of dalk nie inpas nie? Spannend! Meer as een geleentheid sal benut word om Fries én Kaaps te betrek om grense oor te steek. Die Afrikaanse Taalraad en Frysk Tresoar (Fries Letterkundige Museum en Dokumentatiesentrum in Leeuwarden, Nederland) sal hiervoor help sorg.

Filmvertonings, gesprekke en heerlike kos

Vir Suid-Afrikaners is daar twee inryvertonings, heerlike versnapperinge, verskeie gesprekke vanuit ‘n ateljee en die bekendmaking van wie die pryswenner/s is van ’n kortfilmkompetisie om na uit te sien. Enkele hoogtepunte sluit in:

  • ‘n Kortfilmkompetisie vir voorgraadse en na-graadse studente, georganiseer deur die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek (SAVN) wat sluit 27 September
  • ’n Literêre gesprek tussen Alfred Schaffer (hoogs bekroonde Nederlandse digter die jongste ooit wat die PC Hooft -prys ontvang het) en Chika Unigwe (Chika Nina Unigwe is ‘n in Nigerië gebore Igbo-skrywer wat in Engels en Nederlands skryf) op 5 Oktober
  • ’n Inryteater: Pretoria 6 Oktober
  • Woordeboeke en rappers: verskillende sprekers waaronder Quentin Williams en Margriet van der Waal oor die  Woordeboek van Kaaps! via Amsterdam 7 Oktober
  • ’n Inryteater: Kaapstad 8 Oktober
  • ’n Kosmark by die opelugmark te SASNEV 9 Oktober
  • Gesprekke, musiek en wêreldwye uitsendings uit Studio SASNEV 9 Oktober

Danksy die internet sal verskeie gesprekke oor landsgrense heen aanlyn plaasvind, die meeste van die opnames sal ook op Voertaal beskikbaar gemaak word. Hou die pers dop vir meer besonderhede. Voertaal is ’n gratis ruimte met geen betaalmuur nie.

Kapenaars en Pretorianers kan uitsien na besonderse films wat vanuit die gerief van jou motor bekyk sal kan word – en die versnaperings wat beskikbaar is en aan elke motor uitgedeel sal kan word, sal sake net nog lekkerder maak. Vertonings is gratis, die ete en te drinke is teen billike pryse, maar registrasie is noodsaaklik. Albei films sal waarskynlik ook via Studio SASNEV aanlyn beskikbaar wees vir ’n wyle. Hou alle media dop vir besonderhede.

Inwoners van Kaapstad moet hulle beursies reg hou vir die heerlike versnapperinge en te ete en drinke wat Saterdag 9 Oktober te koop sal wees by SASNEV, by Sentraalplein 4 in Pinelands. Kom ervaar kosstalletjies met die lekkerste van die Lae Lande. Kom ervaar die geure van België en Nederland, met ’n tikkie Indonesies en Surinaams en ’n skeutjie Kaaps, alles op die grasperk by SASNEV en op die mooi plein aan die oorkant. Streng Covid-protokolle sal geld. Almal word aangemoedig om stoele en komberse te bring en om gebruik te maak van die groot openbare plein voor die sentrum.

Uitsendings vanuit Studio SASNEV sal Saterdag 9 Oktober van 10:00 – 18:00 plaasvind. Kabous Meiring sal die seremoniemeester wees. Weens Covid sal slegs die nodige mense in die ateljee toegelaat word, maar die dag sal wêreldwyd aan almal beskikbaar gestel word danksy die internet. Die tema vir die dag is: ‘Wat beteken Nederlands vir my?”. Hou die media dop vir meer besonderhede.

Iets oor die volstruis

Om iets op stelte te plaas, is ’n Nederlandse uitdrukking wat losweg vertaal sou kon word as om dit in beroering te bring. Die volstruis met die lang pote en lang nek kan ver kyk, oor grense heen. Dit kan dans en daardie steltbene gebruik om ver te hardloop.Boonop, sê  Maarten Vidal, beleidsekretaris van die Taalunie, daar ís ’n uitdrukking in Afrikaans: “Sy is nes ’n volstruis, waar sy kom, daar is sy tuis.” So is die Nederlandse taal ook. Sy is steeds tuis in die monde van talle sprekers oor grense heen.

Die organiseerders

Die Week van het Nederlands word bestuur deur die Vlaams-Nederlands Huis deBuren en gefinansier deur die Nederlandse Taalunie. Met die hulp van die Vlaamse, Nederlandse en Belgiese diplomatieke korpis is die spilpunt in Suid-Afrika die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere in Pinelands, Studio SASNEV, met Voertaal as webtuiste- en die Vrystaat Kunstefees as platformvennoot.

Die wêreldwye ambassadeurs vir die week is die Nederlandse skrywer en akteur Elfie Tromp en die Vlaamse teatermaker, multidissiplinere performer en aktivis Jaouad Alloul.